Covid: Te veel te laat

Het President Ramaphosa te lank gewag om die land se grense te sluit?

Thomas Mollett – November 2020 (English version)


Op 31 Desember 2019 lig die Chinese die WGO in van 41 mense met “misterieuse pneumonia”. Meeste van die gevalle kan verbind word met die Huanan Seekosmark. Op 7 Januarie 2020 word die virus geïdentifiseer as ‘nCov’. Die eerste sterfte in China is op 11 Januarie en die eerste geval in die VSA op 20 Januarie. Op 23 Januarie word Wuhan onder kwarantyn geplaas, met die Hubei-provinsie wat paar dae later volg. Die WGO verklaar die uitbraak as ’n globale gesondheidsnoodgeval op 30 Januarie, en op 31 Januarie verbied President Donald Trump buitelanders wat die voorafgaande twee weke in China was, toegang tot die VSA.

In Italië word die eerste twee gevalle op 31 Januarie bevestig. Op dieselfde dag word alle vlugte na en van China gestaak en ’n noodtoestand vir ses maande word afgekondig. Onder meer, word inkomende reisigers by lughawens se temperatuur deur skandeerders gemonitor. Op 2 Februarie is die virus se genoom se volgorde bepaal en na GenBank opgelaai.

Op 9 Februarie is die dodetal in China 811 – reeds erger as die SARS-uitbraak van 2002/3, waarin maar sowat 774 mense wêreldwyd gesterf het. Op 11 Februarie doop die WGO die uitbraak ‘Covid-19’. Teen die einde van Februarie is daar reeds 1 128 aktiewe gevalle en 29 sterftes in Italië.

Teen 2 Maart is daar 80 151 gevalle en 2 943 sterftes in China. Teen 3 Maart begin gevalle skerp styg in Spanje. Op 5 Maart word die eerste geval in Suid-Afrika bevestig. Op hierdie dag is daar reeds 3 858 gevalle en 148 sterftes in Italië. Op 8 Maart word 80 miljoen mense in Italië op inperking geplaas.

Op 11 Maart verbied Trump 23 Europese lande toegang tot die VSA en op dieselfde dag word Covid-19 deur die WGO as ’n pandemie geklassifiseer. Op hierdie dag was daar reeds 12 462 gevalle en 827 sterftes in Italië. In die ses dae sedert 5 Maart, het die sterftes hier meer as vyfvoudig toegeneem.

Toe President Ramaphosa sy toespraak gemaak het op 15 Maart 2020, waarin hy ’n ramptoestand afgekondig het, wat onder meer sekere reisbeperkings sou insluit, was daar reeds 61 postiewe gevalle in Suid-Afrika, en dit is aanvaar dat uit die 61 gevalle, slegs een as gevolg van plaaslike oordrag was – dus 60 gevalle kon met buitelandse inkoms verbind word, veral met ’n groep van tien mense wat op 1 Maart vanaf Italië die land binnegekom het.

Op 19 Maart was daar 116 positiewe gevalle in Suid-Afrika waarvan slegs 14 as die resultaat van plaaslike oordrag beskou is; dus 102 gevalle was van mense wat van die buiteland af die land binnegekom het met die virus.


As mens kyk na die tydlyn en syfers dan kom die vraag onwillekeurig op: Hoe kon hierdie 102 geïnfekteerde mense in die land toegelaat en losgelaat gewees het terwyl dit vir ’n geruime tyd reeds duidelik was dat ’n pandemie aan die woed is? Waar was die Intelligensie wat die rooi ligte van hierdie pandemie moes opgetel het? Op 5 Maart reeds moes alle inkomelinge, veral vanaf ’n land soos Italië, op die heel minste onmiddellik in kwarantyn geplaas gewees het.

Kom ons kyk na die tydlyn en tendense. In die periode 25 Februarie tot 3 Maart, in Italië, het die gevalle van 322 na 2 502 gestyg, en die sterftes van 10 tot 79.

Op 1 Maart, dus twee weke voor Ramaphosa reisbeperkings ingestel het (op 15 Maart), was daar reeds 3 318 sterftes in China en 34 in Italië. In daardie twee weke, in Italië, het die gevalle van 1 694 tot 24 747 gestyg en sterftes van 34 tot 1 809.

Hierdie getalle en tendense was nie geslote of geheime inligting nie. Wuhan het al op 23 Januarie in kwarantyn gegaan en Italië op 8 Maart. Hierdie is ingrypende optredes deur goot nasies. Teen 9 Februarie was dit reeds duidelik dat hierdie pandemie erger sou wees as die 2003/4-SARS-uitbraak, toe die sterftes in China reeds 811 bereik het. Boonop het die WGO reeds op 30 Januarie die uitbraak as ’n globale gesondheidsnoodgeval verklaar – en as ’n pandemie op 11 Maart. Wêreldwyd was daar op 3 Maart reeds 93 016 gevalle met 3 202 sterftes. Al die rooi ligte was daar. Steeds het Ramaphosa tot 15 Maart gewag om reisbeperkings in te stel.

Voor die tien geïnfekteerde mense vanaf Italië ingekom het, op 1 Maart, het Suid-Afrika nie een enkele (aangetekende) geval in die land gehad nie. Op 4 Maart toe die gevalle en sterftes wêreldwyd 95 314 en 3 285 onderskeidelik was, was daar reeds alle rede om die land se grense te sluit. Tog word inkomelinge van Europa, waar gevalle en sterftes toe reeds erg aan die styg was, in die land toegelaat, en twee weke later sit ons met oor die 100 infeksies slegs van inkomelinge vanaf die buiteland. En van hier af sou plaaslike infeksies begin afskil.

Dit kan dalk gesê word dat baie ander lande, insluitende Italië en VSA, maar traag was om vroeg op te tree. Dit mag dalk so wees, maar Suid-Afrika het steeds heelwat meer tyd gehad om die situasie wêreldwyd te lees. En twee verkeerdes maak nie een reg nie. En om te herhaal: Op 5 Maart, toe die eerste geval in Suid-Afrika bevestig is, was daar reeds 3 858 gevalle en 148 sterftes in Italië. Alle rede om die inkoms van ten minste Europese lande onmiddellik te staak, of inkomelinge reguit vanaf die vliegtuie (van ten minste ons twee grootste internasionale lughawens) in kwarantyn te plaas. Ten tyde was infeksies in ons buurlande weglaatbaar klein.

As daardie tien geïnfekteerde inkomelinge vanaf Italië, nie vrylik toegelaat was om die land binne te kom nie, of indien die grense op 5 Maart reeds gesluit het, kon ons situasie vandaar baie anders gelyk het, en ons kon selfs dalk die vernietigende, wurgende en onversetlike staat van inperking gepaar gewees het. So ook die psigiese bloedspoor veral op ons oumense in ouetehuise, wat in isolasie moes vergaan. In stede daarvan, prys die regering hulself vir hul “vinnige optrede”.

Mens kan maar net hoop dat daar eendag ’n klas-aksie geloods word teen die ANC, deur, onder meer, haarsalonne en gholfbane, wat toe moes bly en skade ly, terwyl taxis vol kon rondry – en die regering dermate dagvaar tot daar nie meer een sent oor is vir hulle om te kan steel nie.


Post Scriptum: Natuurlik is daar baie bespiegelinge en teorieë oor die oorsprong van die virus, en dalk het dit nié van die Huanan Seekosmark ontstaan nie. Wie sal ooit regtig weet wat alles hieragter steek? Maar my verdere argument oor die vertraagde grenssluiting bly egter staan.


Read more about the fascinating Dewani case in the newly released book The Bloodied BrideOscar vs the Truth is compulsory reading before or after watching the ESPN documentary.




For more info on the Dewani book, visit TheBloodiedBride.com

For general information and/or to order: info@piquetbooks.com or thomas@thomasmollett.com


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *